Die ontstaan van Lewende Woord Westerlig

‘n Saadjie geplant

In 1989 het ek voet – aan – wal  gesit in Pretoria.  Vir ongeveer 10 jaar was ek deel van ‘n kinder- en tienerbedienining te Lewende Woord Brummeria onder die vaderskap van Nevil en Rina Norden asook Wessel en Lisette van Dyk.  In 1995 het die Here my uit die sekulêre wêreld gehaal en voltyds in die bediening geplaas.

In hierdie tyd het ek baie keer met die kerkbussie gery om kinderkerk personeel op te laai in onder andere die Westekant van Pretoria.  Ek het werklik ervaar hoe die Here in my hart begin werk het om ‘n gemeente te plant in die Westekant van die Stad.   

In die jaar 2000 het ek ervaar dat die tyd reg is vir ‘n gemeente planting.  Ons het ook profeiese woord ontvang ter bevestiging en ek en my selleiers het dit ‘n saak van gebed gemaak.

Ons het die gemeente op 18 Februarie 2001 begin in die Lukas van den Bergh Saal, skuins oorkant Danville.  Na so 8 maande het ons verhuis na die Genl. Nic Smit Laerskool waar ons met ope arms ontvang is.  ‘n Wonderlike twee jaar het gevolg waar ons  gemeente ‘n drastiese groei beleef het.

’n Droom bewaarheid
Daarna het die Here my in ‘n droom die eiendom gewys wat ons sou bekom.  Die Here was werlik getrou en vandag R4,5 miljoen en baie gebede later staan daar ‘n pragtige gebou in die Wesmoot kant van die stad.

 

Hier is ‘n paar foto’s om te wys hoe die eiendom gelyk het asook die finale produk.

geboue

 

ONS GEE ALLE EER AAN DIE HERE VIR SY VOORSIENING
Ons het nog nooit nodig gehad om enige geldinsamelingsveldtogte te hou om ons gebou te kon oprig nie.  Ons gemeente ledetal staan ongeveer so op 500 ledemate en ons bywoning ongeveer 650 mense per Sondag 

Die hele roeping en doel van Westerlig volgens die Woord waarmee die Here ons geroep het is om HOOP te bring.  Kol 1:27 “…dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.”  Dit is wonderlik om te sien hoe mense selfs buite die grense van die Wesmoot ingekoop het in hierdie bediening. 

In die paar jaar wat ons besig is het hierdie bediening gesorg vir etlike duisende mense wat ‘n besluit geneem het vir Jesus en ons wil net die eer aan God gee.

Ek is oortuig dat God sy lokale gemeentes gebruik om uit te reik na die gemeenskap.  As u die boek Openbaring lees sal u sien dat God met sewe gemeentes praat, daarom glo ek dat die kerk en spesifiek die lokale gemeente ‘n absolute onbetwisbare rol het om te vervul as deel van die eindtyd Geesbeweging.  My uitnodiging aan u is om betrokke te raak by u lokale gemeente.

Groete in Jesus

Fanie Coetzer
Senior Leraar
Lewende Woord Westerlig

 

 

LW Logo